Jou geestelike begroting

articleImage

Ek weet nie van ń begroting wat almal tevrede stel nie. Ek dink mnr Tito Mboweni het ń bykans onmoontlike taak om te midde van uitdagende ekonomiese omstandighede die verpligtinge van die staat teenoor sy burgers na te kom.

Die feit dat kabinetsministers nie salarisverhogings ontvang nie is bemoedigend. Dit word in elk geval lankal gesê dat die staatsmasjiinerie lomp en duur is en dat Suid Afrika selfs in vergelyking met ontwikkelde lande heeltemal te veel struktuur in stand probeer hou. Die staatsdiens sal met die aanbevole vroeë aftrede baie besparings beleef wat vir ander belangrike sake aangewend kan word.

Natuurlik sal Jan Publiek die rieme moet stywer trek. Lewenskoste het buite verhouding gestyg. Tog kan basiese dinge darem nog teen bekostigbare pryse bekom word.

Ek het gewonder oor ons geestelike begrotings. Immers, dit gaan in ń begroting oor projekte waarvoor voorsiening gemaak moet word. Anders as met finansiële instellings kan ons geestelike gesproke nie lenings aangaan nie. Ons betaalmiddel is die geloofsvertroue van ons hart gebasseer op die beloftes in God se Woord en die ervaring van sy getrouheid in die verlede.

Mens kan nie betaal met wat jy nie het nie. Die Woord moet in die veilige bewaring van ons harte gestoor word. Dit dra ons , dit gee moed om te volhard, dit bring oorwinning oor die aanslae van die bose, dit hou ons op koers.

Wat leef daar in jou hart? Waartoe roep die Here jou? Waar moet jy kom aansluit by dit waarmee Hy reeds besig is? Is daar iets verbeeldingryk in jou begroting wat ń definitiewe appel gaan maak op jou begroting?

Jannie Pelser