As die ligte uitgaan

articleImage

Eskom is steeds met ons, al sy gebreke ten spyt. Ons sal seker verlief moet neem dat kragonderbrekings ons realiteit gaan word. Gisteraand was dit weer sulke tyd.

Ek en Suzette het by kerslig gekuier ( dis romanties behale as dit elke aand gebeur) toe die ligte skielik inskop. Opgewonde het ons besluit om die laaste deel van wakker wees voor die TV deur te bring en na een van ons gunsteling programme te kyk. Die blydskap was kortstondig toe, sonder waarskuwing, die krag weer afgaan.

Natuurlik is ons nie so aangewese op elektrisiteit soos nywerhede, besighede, hospitale en nooddienste ens. nie. Vir ons is dit ongerieflik, vir ons land se ekonomie en beleggersvertroue rampspoedig.

Dit was baie donker toe die ligte skielik weer afgaan. Vir ń oomblik moes ek my aan my omgewing oriënteer sodat ek nie teen iets vasloop nie. Boonop is dit deesdae bewolk wat dinge nog donkerder maak.

Daar kom tye wanneer die ligte spreekwoordelik uitgaan. Skielik, sonder waarskuwing of voorbereiding oorval gevoelens van hopeloosheid en desperaatheid jou. Jy moet weerstand bied teen mismoedigheid, voel uitgeput en oorlaai en angstig. Dit is veral dan dat ń mens sal bly reken op die kragbron wat sedert jou wedergeboorte en bekering in jou werk.

Die Gees van God woon immers in elke Christen. Hy rus ons daagliks toe vir ons taak en roeping in hierdie wêreld. Dit is veral in moeisame tye dat ons bewus word van sy uitsonderlike troos en bemoediging. Niemand kan en sal ons uit die hande van die lewende God ruk nie. Ons is veilig vir tyd en ewigheid.

Is dit donker in en rondom jou?
Jy is nie alleen nie.
God is met jou.

Jannie Pelser