Laat pa jou vertel

articleImage

Deut 32:7 Dink aan die dae lank verby, onthou die jare van die voorgeslagte. Vra jou pa dat hy jou vertel, jou oumense dat hulle dit vir julle sê

Ons leef in ń gebroke wêreld en dit is onafwendbaar dat ons kinders dit aan eie lyf gaan voel. Ek wens so dat ek hulle dit kan spaar maar ek kan nie die Here se werk doen nie. Daarbenewens geld die beloftes van God eweseer vir hulle. Hy beproef niemand bokant hul krag nie, Hy sorg verbondsmatig vir hulle, alles werk ten beste omdat hulle Hom liefhet en eer.

Ek kan hulle las nie dra nie maar ek kan hulle vertel hoedat die getroue God male sonder tal te midde van my eie uitdagings uitkoms gegee het. Ek kan die kere wat God bonatuurlik voorsien, onderneem en gesorg het nie eers alles onthou nie. Wanneer ek moet getuig herinner die Gees van die Here my aan sulke geleenthede en kan ek met groot dankbaarheid en oortuiging vertel van sy trou.

Op my beurt is dit weer die stories van genade wat ander vanuit hul ervaring met my deel wat my bemoedig en krag gee vir die dag.

Jy kan nie jou kinders se laste dra nie. Jy kan luister en raad gee. Jy kan help en hand bysit. Jy kan dit nie keer nie. Dis deel van die lewe, van ons gebroke bestel. Jy kan hulle egter vertel wat God in jou lewe gedoen het. Hulle sal gemotiveer en bemoedig wegstap en met geloofsmoed die lewe in die oë kyk.

Jannie Pelser