Innige meegevoel

articleImage

Die gebeure verlede week by die hoërskool Driehoek is oral vars in die geheue.

Vier pragtige jongmense het die lewe gelaat.

Talle is beseer.

Dit is die hartseerwerklikheid dat ons die lewe nie seker is nie, altans nie soos ons dit van dag tot dag beleef nie. Lewe op aarde is kortstondig en voorlopig en geen mens word ontsien nie. Juis daarom moet ons reg lewe.
Die gebeure het my net weer aan ʼn paar belangrike aksente laat dink

- Ons het Jesus ons Verlosser, geloof in God die Vader en die leiding van die Heilige Gees elke dag, om die waarheid te sê, oomblik vir oomblik nodig. Ons leef onder sy beskerming wat nie beteken dat hartseer dinge nie met ons en ons geliefdes nie kan gebeur nie.

- Ons moet die Woord in ons harte bere. Wanneer traumatiese dinge met ons en ons mense gebeur is dit die beloftes van God in ons harte gebêre wat ons moed, krag en vertroue gee.

- Ons moet mekaar waardeer en dit dikwels vir mekaar sê. Verhoudings is so belangrik. Ons treur nie oor sand en sement nie maar oor mense, persoonlikhede, individue, intimiteit en liefde.

- Ons moet ons kinders elke dag styf vashou, vir hulle bid en hulle belange op die hart dra. Besig wees beroof ons van dit wat regtig van waarde is.

- Liefde ken geen grense nie. Ander se kinders is ons kinders. Ons moet mekaar vashou en bemoedig.

- Ons het net een lewe op aarde. Dit moet in alle opsigte tel. Ons moet voluit lewe en dit vir ander ook moontlik maak.

- Wanneer slegte dinge gebeur soek ons sondebokke. Iemand moet verantwoordelikheid aanvaar. Iemand moet betaal. Dit maak egter geen verskil aan die werklikheid nie. Dit erg en seer genoeg soos dit is, nou moet ons genade bewys, vryspreek en vergewe.

- Ons moet daarteen waak dat ons gou weer die waarhede bo genoem vergeet. Ons maak baie beloftes maar dit versand sommer gou weer namate ons besig raak.

- Die kerk moet nie wag dat omstandighede ons daartoe bring om mekaar op te soek nie. Ook hier is verhoudings van kardinale belang. Christene het mekaar nodig, ongeag taal, kultuur en ander verskille. Ons dien een Here en is almal van Hom afhanklik.

Groete, Jannie Pelser