Braaivleis te duur

articleImage

Dis maar deurmekaar hier by ons in Suid Afrika waar die son nie meer so helder skyn nie en braaivleis duur geword het. Verkiesingskoors is aan die orde van die dag en groot getalle potensiële kiesers, veral jongmense het die afgelope naweek vir die eerste keer geregistreer.

Politieke partye se plakkate begin op lamppale pronk en belowe maanskyn en rose.

Kiesers is meer gefrustreerd as ooit van te vore. Waar trek jy jou kruisie? Wie verteenwoordig geloofwaardige leierskap, vry van korrupsie en goedkoop populisme wat eie belang voorop stel? Waar is ʼn verkiesingsmanifes wat die verbeelding aangryp en gerugsteun word deur konkrete bewyse dat die mense weet wat hulle doen?

Met Suid Afrika weer een van die mees korrupte lande ter wêreld volgens die peiling wat internasionaal gedoen is kan ons net ons koppe in skaamte laat sak. Vis vrot, ek hou nie van die woord nie, van die kop af ondertoe, word gesê. Met leierskap wat Suid Afrika oor die afgelope dekade na aan die afgrond gebring het is dit geen wonder dat die samelewing so stukkend, siek en rigtingloos geword het nie.

Plaasmoorde gedy steeds terwyl grond reeds, sonder gevolge op onregmatige wyse aan kaders uitgedeel word.

Die Zondo kommissie se ondersoek na Bosasa se bedrywighede lees soos ʼn draaiboek vir ʼn riller wat eersdaags op die skerms gaan verskyn. Dat mense so korrup kan wees en alles steeds bymekaar hou grens aan ʼn wonderwerk. Die bron van hierdie wonder is nie die hemel nie.

Moses word geroep om ʼn volk wat reeds 430 jaar in slawerny leef te bevry. Met asemrowende wonders word die Farao uiteindelik daarvan oortuig om die Godsvolk te laat trek. Nie lank daarna nie staan hulle op die oewer van die Jordaan. Gepantser met die beloftes van ʼn nuwe toekoms steek twaalf verspieders die rivier oor om te gaan kyk hoe dit aan die anderkant lyk. Hulle oë straal aanvanklik as hulle getuig dat dit inderdaad ʼn land van melk en heuning is. Die druiwetros sleep op die grond. Die vrugtemandjie loop oor.

Dan versand hulle getuienis. Die reuse en bemuurde stede is alte bedreigend. Selfs God kan nie help nie, sê hulle. Hulle is mislei en sit nou met die sak patats. Hulle gaan liewer terug Egipte toe.

Dis veertig jaar later dat ʼn nuwe geslag die belofte vir hul eie rekening neem en God vertrou.

Hoeveel keer het ons nie al by die Jordaan omgedraai nie. Wat vra God van ons in ʼn tyd soos hierdie? Ons kom nie reg op die manier wat dit tans gedoen word nie. Ons is in die moeilikheid. Gaan ons weer die onherbergsame, gevaarlike en droë woestyn tegemoet of trek ons oor die Jordaan omdat wat voorlê net beter kan wees as wat tans die geval is.

Al wat Suid Afrika kan red is ʼn sterk eenheidsbeweging van Christene wat sê dat hulle die land in besit gaan neem kom wat wil.
Mense wat ʼn muur van geloof vorm en die magte van die duisternis in die oorwinningskrag van Jesus die stryd aansê.

Mense wat weier om deur vooroordeel, kritiek en ongeloof verswelg te word. Mense wat 1 Kor. 13 ernstig neem.
“Die liefde doen die naaste geen kwaad aan nie”.
Mense wat vir God se Koninkryk begin toi toi en oorlogsdanse in koordanse verander, wat wapens in ploegskare verander en die vier vingers wat terugwys eerlik interpreteer en in lyn kom met God se Woord.

Dalk het dit tyd geword dat eerlike en toegewyde Christenleiers bymekaar kom, hulself begin skool in staatsmasjinerie en ʼn beweging, politieke party as jy wil, tot stand bring wat bewys na bewys agter laat dat God nie dood is nie. Tekens van God se komende, teenwoordige en toekomstige heerskappy oprig. Coram Deo mense wat die dag gryp.

Ek is daarvan oortuig dat beloftes ten spyt, geen politieke groepering tans die vermoë het om hierdie land vorentoe te neem nie.
Dalk kan daar iets goeds kom van ʼn koalisie wat mekaar op die tone sal hou.
Op die langtermyn , nuwe God geinspireerde leierskap in die krag van God se Gees daar “bo” en herlewing hier “onder”.

Groete, Jannie Pelser