Om stylvol te verskil

articleImage

Dit is onafwendbaar dat ons somtyds van mekaar sal verskil. Diversiteit is aan die orde van die dag en tegelykertyd ʼn groot uitdaging. Mense is immers geregtig op hul mening.

Ons is rasionale, denkende mense. Ons word groot in ʼn kritiese samelewing. Dis nodig dat jy jou woord moet kan doen. Om jouself en jou standpunt te verantwoord is deel van volwassenheid.

Dis eintlik opwindend en stimulerend om met ander inhoude gekonfronteer te word. Op dié wyse kan jy jou eie voorveronderstellinge kontroleer en voortdurend vra of dit die toets van goeie redenasie slaag.

Uiteraard sal ʼn mens dan sê dat jy verskil wat ʼn sekere saak betref. Dis egter die manier waarop daardie saak aangeroer word wat ons Christenskap meermale verdag maak.
Christene (ek veralgemeen) sukkel om stylvol, soos Jesus dit sou doen, te verskil.

Jesus het respek gehad vir ander. Ek kan nie dink aan ʼn plek waar hy sonder respek opgetree het nie. (moet nog ʼn bietjie nadink oor sy reaksie teenoor die Skrifgeleerdes en Fariseërs toe hy na hulle as “witgeverfde grafte” verwys het). Matt.23:27

Ons moet egter onthou dat ons nie Jesus is nie en dat ʼn bietjie nederigheid gepas sou wees.

Neels Jackson skryf onlangs in die Rapport oor ʼn kunswerk wat vertoon is. Sonder om op die detail in te gaan gee hy sý interpretasie van wat deur die kunswerk gesê word.

In die briewe kolom prys een respondent Neels se verstaan en interpretasie aan.

ʼn Ander verskil maar op so ʼn wyse dat Neels se totale geloofwaardigheid bevraagteken word. Ek haal aan -
“Neels Jackson is blykbaar ʼn louwarm Christen wat vere voel vir die veragtelike godslastering wat die Mc Jesus beeld uitstraal”.

Verder “Neels het duidelik min kennis van” en dan word ʼn paar sake genoem.

Dan “ die skynheilige en lafhartige Jackson behoort hom te skaam”.

Ek ken Neels persoonlik.

Hy is die eertydse kerksake verslaggewer by Beeld, vorige redakteur van die Kerkbode en ʼn fyn besnaarde Christen, digter, skrywer, fotograaf, kollega en vriend.
Wat ʼn jammerlike en ongevraagde vernedering van ʼn mede-gelowige.

Daar word gesê dat net Christene hul eie soldate in die rug skiet.

So hartseer.

Groete, Jannie Pelser