So begin ons dag

articleImage

 

MATTEUS 11:29

Neem my juk op julle en leer van My, want Ek is sagmoedig en nederig van hart, en julle sal rus kry vir julle gemoed.

Soggens vroeg kuier ek en my engel (Suzette) rondom ʼn koppie koffie, twee om die waarheid te sê. Dis ʼn ritueel waarsonder ons nie kan regkom nie. Daar bedink ons die lewe, praat oor die kinders en kleinkinders en beplan ons dag.

 

Sy, ʼn kleuterskoolhoof en ek, nou ʼn “afgetrede predikant” , het albei vol dae. Omdat beide van ons besige mense is moet ons goed koördineer dat niks tussen die krake deurval nie. Teen die tyd dat ons deur die agenda punte gewerk het is ons albei die ene senuwees.

 

Ons het die laaste paar slukke van die koffie nouliks geproe en voel hoe die stres ons bekruip. Te veel werk, te min tyd en middele en alles wat daarmee saamgaan.

 

Dan, net voor ons kaartehuis onder die druk meegee, vat ons hande en bid saam. Soos ons die dag en sy dinge met die Here deurpraat kom daar verligting. Dit is asof Hy wat altyd teenwoordig is die laste wat ons weereens vir ons rekening geneem het van ons skouers kom afhaal. Teen die tyd dat ons amen sê en mekaar ʼn drukkie gee is ons vol moed en opgewonde.

 

Ek weet die ideaal is dat ons oomblik vir oomblik sorgvry lewe. Ons sukkel nog bietjie daarmee.

Tog deur die genade en lankmoedige liefde van ons Vader kom ons met dankbaarheid en verwondering deur die dag.

 

Ek wonder hoe begin jou dag en wat jy met die uitdagings maak?

 

Dit laat my dink aan die liedjie wat sê –

Burdens are lifted at Calvary

Jesus is very near.

Groete, Jannie Pelser