Welkom seun

articleImage

Ek het die voorreg om onder andere by Radio Kansel betrokke te wees. Op gereelde basis doen ek opnames daar en geniet elke oomblik daarvan. (Toekomsvenster saai Sondae uit om 1300. Maandae 1530 gesels ons met Johan Els en Donderdae oggend 0730 op Kaapse Kansel).

Gister kon ek met Gert Koevert gesels en dit was ʼn heerlike gesprek.

Iets besonders het my opgeval.

Van die oomblik dat ek die klokkie lui om toegang tot die perseel en ateljees te kry totdat ek dit verlaat beweeg ek met die grootste vrymoedigheid en aanvaarding. Die personeel weet wie dit is wat in die gange rondbeweeg en niemand stop my om te vra wie ek is, waar my toegangskaartjie of identiteitsdokument is nie. Ek ervaar ʼn gevoel van warmte, liefde, omgee terwyl ek vir ʼn oomblik ʼn medewerker is met tientalle rolspelers wat dieselfde oogmerk het.

Dié ervaring het my laat dink aan hoe God die Vader my (ons) ontvang. Ps. 23 sê soos ʼn eregas. PSALMS 23:5
U laat my by 'n feesmaal aansit, terwyl my teëstanders moet toekyk. U ontvang my soos 'n eregas, ek word oorlaai met hartlikheid. Dis asof ek hoor “welkom seun” wanneer ek dit in sy teenwoordigheid waag.

By God is daar ongeëwenaarde aanvaarding, liefde, genade, omgee, vergiffenis, leiding en beskerming. Ek is nie ʼn vreemdeling by God nie omdat ek in die naam van sy Seun, Jesus Christus na Hom toe kom.

Iewers lees ons “ gaan weg ek het julle nooit geken nie” Wat ʼn skrikwekkende gedagte. MATTEUS 7:23
Dan sal Ek openlik vir hulle sê: Ek het julle nooit geken nie. Gaan weg van My af, julle wat die wet van God oortree.”

Die vraag vandag is, ken die “hemel” jou, of is jy ʼn vreemdeling daar?

Dalk doen jy net per geleentheid daar aan, wanneer die nood groot is?

Sodra daar uitkoms en verligting kom vergeet jy gerieflik dat God ʼn lewende dinamiese verhouding met jou in gedagte het.

Moet jy by wyse van spreke ʼn naamkaartjie dra of beweeg jy gerieflik en met groot vrymoedigheid in die “hemel gange”?

Die Here sê ek het jou by die naam geroep. JESAJA 43:1
Luister, so sê die Here wat jou geskep het, Jakob, wat jou gevorm het, Israel: Moenie bang wees nie, Ek verlos jou, Ek het jou op jou naam geroep, jy is Myne.

Jy is myne.

Welkom seun.

Groete, Jannie Pelser