Wonderlike eensaamtyd

articleImage

Ons is midde die kersseisoen of wat populêr deesdae die feesseisoen genoem word. Vir ons as Christene is Jesus en sy koms na die aarde die vertrekpunt van feesvieringe. Daarsonder was ons vandag steeds gevange in ons sonde, sonder hoop en sonder ʼn toekoms. Nou is ons nie alleen kinders van die Vader nie maar ambassadeurs van sy Koninkryk. Ons leef uit dankbaarheid vir sy onuitspreeklike genade en doen elke dag wat ons hand vind om te doen.

Geen mens het enige verweer dat hy nie weet wat om vir die Here te doen nie. Begin in jou omgewing. Jy sal nie ver loop of ry en groot nood raakloop nie. Die behoefte is dalk in jou huis en net langs of oorkant jou woning.

Dit is so dat hierdie seisoen deur grootskaalse feesvieringe gekenmerk word. Boonop lê die nuwe jaar vir ons en wag. Daar is verwagting en vreugde in die lug. Glimlagte speel op mense se mondhoeke omdat die meeste ook ʼn blaaskans van die gewone daaglikse roetine kry. Familie en vriende is deel van die vergelyking.

Tog is almal nie opgewonde nie. Daar is baie wat huil en dit vir verskillende redes. Sommige het geliefdes wat gewoonlik hierdie tyd met hulle sou meemaak aan die dood afgestaan. Ander se geliefdes is ver hiervandaan. Ander se geliefdes het hulle vergeet en afgeskryf.

Sommige het min om die tafel mee te seën. Dis die gewone basiese dieet en van geskenke en versierings is daar nie sprake nie. Sommige is ernstig siek in hospitale en inrigtings, verouderd en verswak.

Ek probeer nie jou kersvreugde demp nie, vergewe my as jy dit so ervaar. Veel eerder wil ek jou vreugde verinnig en vergroot deur jou uit te daag om iewers vreugde in iemand anders wat nie so geseënd en gelukkig soos jy is nie, te bring.

Jy sal verbaas wees oor hoeveel vreugde jou toegevoeg word.

Groete, Jannie Pelser