Jou wêreld, God se wêreld.

articleImage

Jou wêreld, God se wêreld. 

Die selfoon met al die tegnologie wat daaraan verbonde is het ʼn integrale deel van ons lewens geword. Dit vergemaklik die lewe oneindig en as dit reg gebruik word voeg dit enorme waarde tot ʼn mens se lewe.

Soos met alles is daar gevare as dit op onverantwoordelike wyse aangewend word. Daarvan is daar bykans daagliks voorbeelde. Dis nie die tegnologie wat verdag is nie maar mense se gebrek aan tegnologiese intelligensie. Ons moet nog opgevoed word om slim om te gaan met dié gawe. 

Terwyl ek vanoggend Bybel lees hoor ek hoe my selfoon kort kort my aandag probeer trek. Elke tipe boodskap het sy eie deuntjie, dan is dit ʼn epos, dan ʼn inkomende kort boodskap en dan weer ʼn watsup. Iewers praat messenger ook met my .

Die inligting wat in daardie boodskappe vervat is verteenwoordig die lewe en die appèl wat dit op ʼn mens maak (die meeste van die inkomende boodskappe is werkverwant).  

God het ons in en vir hierdie wêreld ontplooi. 

Ons het ʼn roeping hier. 

Terwyl ek die Here se Woord lees word ek bewus van dié twee wêrelde wat een moet word. Ons noem dit Koninkryk.

Ons wêreld en God se wêreld. 

Ons verstaan en sy verstaan. 

Die hier en die nou en die ewigheid.

Ons uitdagings en sy antwoorde, oplossings en strategie. 

In eie krag kom ons nêrens nie. Ons hardloop soos afkop hoenders terwyl ons probeer om die vele uitdagings die hoof te bied.

God vul ons egter met sy wysheid, aanvoeling en verstaan vir hierdie wêreld sodat ons by ʼn Heilige Gees geïnspireerde integrasie kan kom.

Dis Hy en ons, ons en Hy. 

Ons is saam met Hom besig om die Koninkryk te laat kom. 

Hierdie wêreld word vernuwe en verander namate ons die Gees van God toelaat om dit te doen, deur ons te doen met dit wat jy raakgelees het uit sy Woord.

Sout en lig noem die Here ons. 

Verderf en duisternis word stelselmatig verdring om genesing en perspektief  te bring.

Hoe integreer jy jou wêreld met God se plan daarvoor?

Om dit te kan doen moet daar ʼn stilhou plek en tyd in jou lewe wees.

Dan wanneer die selfoon jou aandag vra is jy toegerus en vervul met verwagting.

Dan word elke kenmerkende wysie op jou selfoon ʼn geleentheid om te dien.

 

Groete, Jannie Pelser