Blosend smaakloos

articleImage

Vrugte en groente vorm ʼn integrale deel van my dieet. Met lente en somer in die atmosfeer leef die verwagting van heerlik eet en geniet.

My ander helfte verras my gister met drie volrond perskes wat sy by ʼn bekende handelaar gekoop het. Die wange bloos rooi en dis voluit geswel. Ek is suinig om dit te skil (kan nie harige goed in my mond kry nie) maar gee later toe.
Lekker moet immers lank hou en daar gaan twee oor wees as ek vir boetie verorber het.

Die perske stel uiterlik nie teleur nie. Daar is nie ʼn sweempie te bespeur dat gogga se kind daar probeer nes skrop het nie. Ongelukkig is die belofte van korte duur.

Die perske smaak soos absoluut niks. Dis niks meer as ʼn struktuur vesel nie en bring geen genoegdoening nie.
Buite is die belofte daar, binne erg vervelig.

Mens moes eers aan die perske proe voordat jy weet waarmee jy te doen het. Wat belowe word is skreiend afwesig.

Dit laat my wonder oor ons lewens.
Ons het ter wille van oorlewing meester manipuleerders geword. Ons draai alles en almal om ons vinger en vertoon ʼn buitekant wat blakend gesond en vervuld is.
Wanneer kollegas, huismense, die dame agter die kasregister egter die tande in jou slaan tree daar ʼn ander jy na vore.

Smaakloos en voorspelbaar vervelig.
Geen geur, smaak of genieting nie.
Hoe lyk dit met jou lewe?
Buite vol bravade maar aan die binnekant stukkend, kwaai, veroordelend, onaantreklik?
God spesialiseer in binnekante.
Hy maak harte nuut.
Kom staan vandag saam met my in die ry.

Eseg. 36:26
Ek sal julle ‘n nuwe hart en ‘n nuwe gees gee, Ek sal die kliphard uit julle liggaam uithaal en julle ‘n hart van vleis gee.

Groete, Jannie Pelser