Dis ʼn nuwe dag

articleImage

Dis ʼn nuwe dag

Wanneer ek en Suzette soggens die eerste koppie koffie drink is dit nog donker.

Ek hou nie van die donker nie.

My perspektiewe is erg benewel as dit donker is.

Die misdaadsyfers wat pas bekend gemaak is dreig om ʼn mens van die bietjie lewensap wat nog oor is te beroof. Ons vorige staatspresident se agteraf gekonkel laat my koud word. Die Zondo kommissie wat sommer oornag bedrywighede opskort ondergrawe my vertroue. Die grootste brandstof prys verhoging in jare in Oktober is slegte nuus. Grondonteiening sonder vergoeding ontstel my. Jongmense wat selfmoord pleeg bekommer my.
So kan ʼn mens aangaan.

Dit voel soos nag maar terwyl ek en Suzette sit en gesels oor alles wat ontwrig en ontsenu.

Maar gaandeweg, vroeër nou dat die somer nader kom, word dit lig.

Skielik kan ek sien, asemhaal, ontspan en hoop.
Ek kan nou sien wat rondom my aangaan en beweeg sonder om my tone stukkend te stamp.
Ek is so diep dankbaar vir elke nuwe dag wat deurbreek. Dit sê vir my dat God nog nie opgegee het met hierdie wêreld of met my nie.

Daar ís moontlikhede wat ontgin en beproef kan word as die son net eers weer opgekom het.

Maleagi praat van die son van geregtigheid (redding) met genesing in sy strale. Dit laat ʼn mens bokspring met afwagting en vreugde.

ʼn Nuwe dag verkondig genade, hoop, nuwe moontlikhede.
Net toe besluit ek, die nag gaan nie oor my gees en gemoed seevier nie. Ek baai my in die lig.

God roep my om iewers deur my lewe en optrede, woord en dade iemand se donker in lig te laat verander sodat hy kan sien dat alles nie tevergeefs is nie.
Immers, die graf ís leeg.

MALEAGI 4:2
Maar vir julle wat eerbied het vir my Naam, sal die son van redding skyn met genesing in sy strale. Julle sal vry word en bokspring soos vetgemaakte kalwers.

Groete, Jannie Pelser