Spruit weer uit.

articleImage

Spruit weer uit.

Ek sien vanoggend ʼn boom op ‘n sypaadjie wat êrens in die verlede bykans tot op die grond afgesny is. Ek moet dít eers van my hart af kry, bome is “heilig”!!

Ek bedoel nie soos om te aanbid nie, maar ʼn boom verdien respek. Daar mag redes wees waarop bome doodgemaak moet word soos wanneer dit die fondasie van ʼn huis bedreig. Selfs dan sou ek wou voorstel dat jy jou huis op ʼn ander plek herbou (grappie).

Ek dink aan die kortstondigheid van ʼn mens se lewe teenoor sommige bome wat letterlik generasies oorleef. Bome kan báie verhale vertel.

Wie almal in sy skadu gesit het, hoeveel erge winters hy al beleef het. Dalk van ʼn veldbrand wat sy bas erg beskadig het. Stories van trane wat onder daardie boom gehuil is en verliefde paartjies wat onder gespreide takke piekniek gehou en in mekaar se oë gestaar het?

Bome het baie om te vertel.

Dié betrokke boom waarvan ek praat moes jare oud gewees het as ʼn mens die omtrek van die stam in aanmerking neem. Wat mense vergeet is dat onder die grond daar ʼn stewige en indrukwekkende wortelsisteem is wat die boom se groei moontlik maak. Diep onder die grond word die lewensap onttrek en na die uithoeke van die takke en blare gevoer. Wat bo die grond leef is ʼn weerspieëling van wat onder die grond aan die gang is.

Die feit dat daar nou reg rondom die stam van die boom, ja, selfs uit die afgesnyde stam self nuwe takkies groei, sê duidelik dat daar betekenisvolle lewe ónder die grond is. Dis asof die boom luidkeels uitbasuin, “jy kan my afsny, maar jy kan my nie doodmaak nie tensy jy by my wortels uitkom”.

Die boomstorie laat my aan die lewe dink. Dis onafwendbaar dat harde en moeilike tye kom. Ons is nog nie in die hemel nie. Somtyds word ons deur onvriendelike opmerkings, negatiewe ervarings en hartseer tot op die grond “afgesny”. Wat uiterlik sigbaar is egter nie noodwendig ʼn weerspieëling van wat aan die binnekant aan die gebeur is nie.

Swaar tye kán maar kom.

Paulus sê ons is kleipotte wat maklik breek.

God is ons Bron. Hy is ons sekuriteit. Hy gee en waarborg die lewe.

You can`t keep a child of God down.

Jes.11:1 – ‘n Takkie sal uitspruit uit die stomp van Isai, 'n loot uit sy wortels sal vrugte dra.

Groete, Jannie Pelser.