Geroes-geraas.

articleImage

My ander helfte het ʼn besondere affiniteit vir ʼn windpomp. Dit hou betekenis in vir haar en omdat sy vir my belangrik is, het ek haar jare gelede met ʼn replika en handgemaakte windpomp verras, die soort wat ʼn mens dikwels langs die pad sien.

Dis helfte so groot soos ʼn gemiddelde volwasse mens met ʼn waaier wat energiek in die wind moet draai. Gaandeweg egter het “winter” in sy speke ingekruip sodat dit ʼn ongemaklike “sqeek” geluid maak wanneer die wind daarteen waai. Met moeite kom die waaier dan aan die beweeg maar as dit eers op spoed is, kan jy dit nie keer nie.

Solank die wind waai is daar lewe.

Die nou verroeste windpomp laat my aan die lewe dink.

Met verdrag kom ʼn mens agter dat alles nie meer so gemaklik “draai” nie. Jy word veral daarvan bewus as jy opstaan soggens. Daar is plekke waarvan jy nie eers geweet het as jy die ongemak en seer in ag neem nie. As jy egter die eerste paar tree gegee het begin daar lewe kom. Jou lyf tel momentum op en jou gees sing:

This is the day that the Lord has made
I will rejoice and be glad in it.

Die wind van sy Gees begin teen jou aanwaai en jou speke kom spreekwoordelik aan beweeg. Jy is immers ʼn mens met ʼn roeping, ʼn sending, jy is op ʼn missie. Hierdie wêreld moet toenemend Koninkryk word. Vandag kán en móét jy tekens oprig dat die Seun van die mens gekom het, dat álles verander het en dat ons op weg is na die volmaakte.

Neem my lewe laat dit Heer
U gewy wees meer en meer
Laat my hart gedurig juig
En van dankbaarheid getuig.

Groete, Jannie Pelser.