God sal sorg.

articleImage

Baie jare gelede het ons vir die eerste keer ʼn huis gekoop. Dit was menslik gesproke ʼn baie riskante ding om te doen. Ek het my begewe in ʼn voltydse musiek- en sangbediening waarin daar min “sekuriteit” was. Inkomste het afgehang van die geleenthede wat jou gebied word om in eredienste en by ander funksies te bedien. Met ‘n petrolgeldjie en ʼn donasie in die sak is jy dan verder op pad na die volgende geleentheid.

In hierdie tyd het ek ʼn belofte uit God se Woord ontvang dat Hy sou sorg. (Ps.37) Ons het van daardie teks ʼn uitgangbord gemaak en buite ons huis geplaas as ‘n getuienis van ons geloofsvertroue. Sedertdien het daardie bord saam met ons verhuis.

Vanoggend toe ek weer die bord buite die pastorie sien hang het ek terug gedink aan God se getrouheid oor baie jare en dit dankbaar in herinnering geroep.

Sedert dáárdie tyd het ons vier kinders grootgemaak, almal het ʼn geleentheid gehad om verder te studeer, twee dogters het getrou (pa se rekening), geëet, geslaap, gebly en gery en nóóit iets kort gekom nie.

Ek bring vanoggend hulde aan die onmeetlike en goeie God vir wie ons dien. Hy was en is en sal altyd getrou bly.

Daar sal wéér tye wees waar ek my sal moet beroep op daardie teks. Nie dat ek dit nie elke dag nodig het nie. Maar in tye waar jy die roepstem van die Here hoor wat sê “trek verder” weet jy – die enigste standhoudende sekuriteit wat ek het, is die beloftes in God se Woord. Daarvoor staan die drie-enige God self in. Dis betroubaar en die waarheid.

Ek weet nie wat jou situasie vandag behels nie. Miskien het jy nodig om jouself te herinner aan die wonderlike wyse waarop God in die verlede gesorg het en nuut daaruit lewe.

Psalm 37: 4 - Vind jou vreugde in die Here, en Hy sal jou gee wat jou hart begeer.

Psalm 37: 5 - Laat jou lewe aan die Here oor en vertrou op Hom; Hy sal sorg.

 

Groete, Jannie Pelser.