Ons is nog nie DAAR nie.

articleImage

Ek is tans op wat ʼn “geloofsreis” genoem word. Dit is ʼn drie jaar verbintenis om jouself beter te leer ken en in die proses ontslae te raak van al die “bagasie” wat jy met jou saamdra. Iewers skuil die “ware self” en wag om “bevry” te word.

Dis intens en somtyds emosioneel. Dit vra ʼn hoë graad van eerlikheid en ʼn gewilligheid om plekke in jou menswees te besoek wat lank weggebêre is. Dit is egter bevrydend en broodnodig.

Die besondere model aan die hand waarvan ons in hierdie ontmoeting gesels word die Eneagram genoem. Dit onderskei nege persoonlikheidstipes en is ʼn interessante en komplekse model. Wat ek met groot waardering agterkom is dat elkeen van ons uniek geskape is. Ons is beelddraers van die lewende God en ons moet dit van mekaar respekteer.

Ons het ook ons eie persoonlikheidsamestelling en verstaan van die wêreld wat soms hemelsbreed, van die volgende persoon verskil. Die kuns is om te sien hoe en waar jy kan groei en hoe ander jou daarin behulpsaam kan en wil wees.

Net so het elkeen van ons ʼn betekenisvolle bydrae om te lewer met betrekking tot die vorming van ander mense. Sommige lewer hierdie bydrae gemaklik en spontaan en ander vind dit moeilik.

Feit is dat niemand in hierdie lewe die kuns van menswees na God se bedoeling vervolmaak nie. Dis ʼn lewensverbintenis waarin ons dikwels faal.

God se genade is genoeg en dit behoort ook genoeg tye wees wanneer ek my eie gebreke in die oë moet staar. Dit geld eweneens vir my verhouding met die mense rondom my.

Dalk is die woorde nederigheid en dankbaarheid die twee parameters waarlangs ons die reis moet onderneem.

Groete, Jannie Pelser