Luister na die GPS

articleImage

Tegnologiese innovasie is verbysterend. Ek verwonder my aan waarmee mense voor en dag kom en kan nie wag vir die volgende hulpmiddel nie. Die kinders (en kleinkinders) moet wys hoe dit werk maar as ek eers gewoond geraak het aan die bederf kan ek nie daarsonder nie.

Een van die wonderlike gawes aan die mensdom is die GPS (Global Positioning System). Hoe die vriendelike dame weet wanneer en waar om te draai gaan my verstand te bowe. Sy kom oënskynlik enige plek op planeet aarde reg met pad aanwysings. Sy moet ʼn fenomenale kapasiteit om inligting te verwerk en te onthou hê. Ek dink dit moet ʼn uitdaging wees om met haar getroud te wees!

Ons manne verdwaal alewig en gewoonlik hou ons nie daarvan dat iemand ons reghelp nie. Sy egter voeg enorm waarde by en omdat sy bykans altyd reg is sal ons ons trots in die sak moet steek.

Sy het boonop die wêreldse geduld en sal alles moontlik probeer om jou weer op die aangewese weg te bring. Sou jy aspris of per ongeluk die verkeerde afdraai neem sal sy jou met eindelose geduld “reroute”. As dit blyk dat jy heeltemal verdwaal is en omdraai die enigste uitweg is sal sy met beslistheid jou aansê om by die volgende kruising ʼn U draai te maak.

Merkwaardig.
Die Heilige Gees is ons hemelse GPS. Hy oriënteer Homself aan die Skrif en help ons om koersvas te bly. Ons bestemming is om soos Jesus te wees en Hy sal met groot geduld alles wat nie aan Jesus herinner nie deur effektiewe navigasie uit ons lewens rangeer. As ons op die verkeerde pad is kan ons verwag om sy stem te hoor wat ons terug wil bring by die beproefde wee. Somtyds praat Hy baie beslis en maan ons om volledig om te draai.

Dit is immers wat bekering is. Onbekeerde harte stap weg van God af terwyl geheiligde harte Jesus navolg. Somtyds word ons verlei deur die leuens van Satan en ons eie ongehoorsaamheid. Dis dan dat die Heilige Gees ons op allerlei wyses help om terug te draai. Jy kan verwag dat sy stem al hoe duideliker en ernstiger gaan word. Sou jy op die op pad volhard kan jy baie trane verwag. Die pad lei na die verderf sou jy daarop volhard.

Oriënteer jou aan die stem en aanwysings van die Heilige Gees. Luister aandagtig en vertrou Hom ten volle. Hy weet wat Hy vir jou beplan.

Jer.29:11 
Ek weet wat Ek vir julle beplan, sê die Here: voorspoed en nie teenspoed nie; Ek wil vir julle 'n toekoms gee, 'n verwagting!

Groete

Jannie Pelser