Ek is ʼn dapper muis.

logo

Ek is ʼn dapper muis.
Jy jok.

Dit is net die dapper muis wat nog nooit bang was nie. Die meeste van ons ken die emosie.

Vrees is verlammend en doodgewoon aaklig. Dit tap jou energie en ontneem jou lewensvreugde en kwaliteit. Dit ondermyn ook jou getuienis.

Die enigste vrees wat geregverdig is is die vrees van die Here. (Ou Vertaling) Die vrees van die Here is die respek en agting wat ons vir Hom het as die Gansandere.
Dit is iets totaal anders as bang wees. Daardie bang het Jesus aan die kruishout ongedaan gemaak.
Ons hoef nie meer bang te wees vir die straf van God nie. Ons sondes is vergewe en ons het ʼn nuwe lewe. Ons het saam met Jesus gesterf, is saam met Hom begrawe, het saam met Hom opgestaan in ʼn nuwe lewe en lewe nou deur die krag van die Heilige Gees.

Dit is merkwaardige en noemenswaardige Bybelse waarhede en moet nooit uit die oog verloor word nie. Dis juis wanneer ons dit vergeet dat bang homself aan ons kom opdring. Hy is Immanuel, God met ons. Ons is geborge, veilig en getroos.

Die Bybel is radikaal eerlik oor hierdie bang storie. Dit loop soos ʼn refrein dwarsdeur die Woord van die Here, “moenie bang wees nie”.

Dit word van en deur ons geloofshelde gesê. Keer op keer, “moenie bang wees nie”. Ek dink nie die Here bedoel dit as ʼn gawe gedagte nie. Dit is seer sekerlik ʼn opdrag en om aan vrees toe te gee en vrees jou lewe te laat manipuleer is oerdom, veral in die lig van die Krag wat in ons is en tot ons beskikking is.

Maak vandag klaar met vrees.
Bind die beloftes van God om jou hals.
Trek die volle wapenrusting van God aan.
Gepanser van kop tot tone in sy ewigdurende krag het bang nie ʼn kans nie.


Groete

Jannie Pelser