Hoop is mooi

logo

Goedertierenheid en trou ontmoet mekaar, geregtigheid en vrede kus mekaar.

Trou spruit uit die aarde, en geregtigheid kyk uit die hemel neer ( Psalm 85:11-12 )

 

Die eerste Sondag van Advent is die Sondag van hoop.

Die psalmlesing vir hierdie Sondag bevat die mooiste personifikasie: "Goedertierenheid

en trou ontmoet mekaar, geregtigheid en vrede kus mekaar.  Trou spruit uit die aarde,

en geregtigheid kyk uit die hemel neer"  ( Psalm 85:11-12 ).

 

Die Bybelse beloftetaal is altyd so mooi dat 'n mens dit net wil teken, met helder kleure en

duidelike hale.  Bybelse hoop is om vas te hou aan die mooie wat God wil, en nie aan die

lelike wat ons soms voel ons oorweldig nie.

 

Dit is hoekom ons ons moet omring met dinge wat mooi is:   woorde, gedigte, prente, kleure, blomme,

noem maar op.  Dit laat ons onthou en dit laat ons verlang.

 

Hoe mooi klink dié vers in hierdie Engelse vertaling:

"Steadfast love and faithfulness will meet; righteousness and peace will kiss each other.

Faithfulness will spring up from the ground, and righteouosness will look down from the sky" (NRSV).

 

Dankie vir die hoop waaraan ons in hierdie Adventstyd opnuut kan vashou, Here, omdat goedertierenheid

en trou, geregtigheid en vrede mekaar ontmoet en soen.

Amen.

 

Lisel Joubert

 

Boodskap vir Vandag word finansieel moontlik gemaak deur die goedgunstige donateurs van

Bybel-Media wat daarin glo dat die Woord van die Here deur verskillende mediums versprei moet word.

Webblad: www.bybelmedia.org.za