“Absent to His prescence”

articleImage

Is God teenwoordig of nie? Het Hy Homself van hierdie wêreld onttrek of selfs moed opgegee met ʼn mensdom wat die pad oënskynlik lankal byster geraak het?

Dis is van die vrae wat onwillekeurig by ʼn mens opkom wanneer jy na die wêreld rondom jou kyk.

Daar heers ʼn onverskilligheid by die mens jeens homself, sy medemens, die wêreld en selfs God. Dis asof ʼn traak-my-nie-agtigheid van mense besit geneem het. Stel jouself dit voor dat in taxi geweld mense gewetenloos afgemaai word of dat tieners mense vermoor. Dink aan die bende geweld op die Kaapse vlakte of die uitmoor van geliefdes. Ons praat nie eers van die geweld wat in die privaatheid van mense se huise teenoor mekaar gepleeg word nie. Emosioneel, fisies en geestelike aftakeling selfs in Christene se huise. Dis nie die prerogatief van een groep nie, dis verteenwoordigend van alle mense. Ons het gewetenloos geraak. Ons, lyk dit my, gee nie meer om nie.

En God? Waar pas Hy by dit alles in?

Iemand maak gister die opmerking dat ons te midde van al die hartseer en ontwrigting dalk afwesig is vir sy aanwesigheid. Dit is dalk die rede dat ons die spoor so byster geraak het. Dis kos ʼn sensitiwiteit om God te beleef.

Sy frekwensie is hemels, verhewe, anders en sag.

Hy werk waar mense in die puin van Mosambiek grawe op soek na kinderlykies wat onder modder begrawe is.

Hy swaai saam met die kinders van Appelpark en Munsieville.

Hy troos in plekke waar hawelose mense skuil.
Hy deel kos uit by die sopkombuise van hierdie wêreld.
Hy pik ontwrigte vlugtelinge uit die see.
Hy sit by die moedelose op die straathoek.

Ons mis Hom dalk omdat ons so gevange geneem word deur negatiewe omstandighede dat ons afwesig raak vir sy aanwesigheid.

God is nie ver nie.
Hy is ook in jou en my.

Hy wil ons hande, voete, mond, ore en hart in beslag neem.

Raak teenwoordig vir sy Gees.

God is hier teenwoordig
Laat ons biddend nader
Hier waar ons voor Hom vergader

God is in sy tempel
Hemelpoorte bewe
Almal buig voor Hom wat lewe.