Ek sal jou naam nie eens noem nie.

articleImage

Ek sal jou naam nie eens noem nie.

Eskom

Suid-Afrika word tydig en ontydig in donkerte gedompel en fase vier het ’n huishoudelike term geword. So vra die man vir sy vrou hoe vêr aandete is waarop sy antwoord, “fase vier”.

Tydig ʼn ontydig gaan die ligte by ons dood en ure van ongerief en uitdagings word ingelui. Die impak op ons ekonomie kan skaars verreken word. Dit maak ’n mens boos as ’n mens daaraan dink dat jy jare lank verneem het van die onredelike en buitensporige bonusse wat aan amptenare van Eskom uitbetaal is. Vandag steier Suid-Afrika onder beurtkrag, desnoods beurtwater en beurt alles.

Dis net nog ’n voorbeeld van Jan en alleman wat die gelag betaal terwyl die skuldiges met verskonings vorendag kom. Dit sal ook nie help om hierdie probleem weg te wens nie.

Goed bedoelde boodskappe doen die rondte van hoe elke Suid-Afrikaner kan bydra om die las op elektrisiteitsvoorsiening ligter te maak. Sommige daarvan is erg alarmisties en herinner aan 1994 en die nag van die lang messe.

God het ons dit genadig gespaar.

Tog is dit nie verkeerd om pro-aktief te dink en op te tree nie.

Dalk het ons so gewoond geraak aan die gerief van elektrisiteit wat op aanvraag beskikbaar is, dat hierdie oefening ons met dankbaarheid moet vervul vir die gawes wat ons daagliks geniet, maar as vanselfsprekend aanvaar.

Ons het nodig om te bid vir die personeel by Eskom asook die installasies wat onderhou moet word. Soos dit is, sien ek in my gees hoe werkers op grondvlak skarrel om die netwerk te laat funksioneer terwyl die base se kragopwekkers inskop die oomblik as die krag afgaan.

Dit klink kompleet soos ’n industriële gebied soos die kragopwekkers bykans outomaties aangaan wanneer die donkerte op ons toesak.

Miskien moet ons kreatiewe maniere vind om die donkerte te vier. Miskien help die Here ons ook om net weer ’n slag die wonder van sy genade, Hy wat ons uit die duisternis in sy ewige lig ingebring het, te laat besef. Daarbenewens die merkwaardige werk van die Heilige Gees, ons ewige kragbron. Maak elke dag ’n Eskomdag.

Verkiesing

Die kragpale lyk soos kersbome soos verkiesingsplakkate aangebring word. Politieke partye se advertensies is kleurvol en dra swaar aan al die beloftes wat gemaak word. Byeenkomste word gehou en oudergewoonte sorg dit vir baie emosie.

Waar ’n mens jou kruisie moet plant, bly die groot vraag.

Woorde wek maar voorbeelde trek, lui die spreekwoord. Dis die praktiese uitlewing van daardie beloftes wat telkens teleurstel. Dis verder die reeds gemarginaliseerde en sukkelende mense onder ons wat aan die swaarste end trek.

In ons omgewing word ek aan die swaarkry van mense herinner wanneer ek deur Munsieville ry. Vullis hope is die speelplek van klein kindertjies. Riool vloei dikwels in die strate. Dis onhigiënies en aaklig. Sommige teerstrate het nou wandelpaaie geword. Dis onbegaanbaar vir motors. Van verkiesingsbeloftes egter kom dadels vir ons bure in Munsieville. Dit laat ’n mens met ’n gevoel van onbeskryflike misnoeë.

Onverklaarbaar dat die inwoners weer in groot getalle vir die heersende party sal stem. T. hemde, waterbottels en eetgoed en ’n feestelike atmosfeer, ’n dag van vergeet, koop baie stemme.

Die verkiesing sal kom en gaan. Wat daarna gebeur is wat belangrik is. Ook hier is ons diep afhanklik van die Here om ons deur sy Gees op die regte pad te lei. God en sy Koninkryk verteenwoordig waardes soos regverdigheid, integriteit, eerlikheid, barmhartigheid.

Soek die party wat hierdie waardes op grondvlak uitleef.

Nieu Seeland

Die wêreld het ’n baie onveilige plek geword. In die onlangse verlede het ons weer bewus geword van die vernietigende krag van vooroordeel en agterdog. Die onverskoonbare, laakbare en vertonerige wyse waarop Brenton Tarrant 50 aanbidders genadeloos afgemaai het terwyl die wêreld toekyk, is grillerig en onverskoonbaar. Die Nieu Seelandse premier, Jacinda Ardern het burgers gevra om in solidariteit met die naasbestaandes die naam van die moordenaar nooit weer te noem nie. Deur sy naam gedurig in gesprekke te opper gee op ’n interessante manier verdere lugtyd aan sy sieklike verstaan van hierdie wêreld.

Dit maak sin. Hy het immers alles op sosiale media uitgesaai.

Wapenwette word hersien en verskeie mense het hul semi outomatiese wapens uit oortuiging ingehandig.

Die vraag kom onwillekeurig by ’n mens op, wat is aan die gebeur in ons wêreld?

Het mense die pad heeltemal byster geraak?
Ek sal sy naam nie noem nie

Ook plaaslik steier Suid-Afrika onder geweld en misdaad. Respek vir ander het ’n skaars kommoditeit geword.

Miskien moet ons dieselfde voorbeeld volg om nie die naam van moordenaars, verkragters, diewe en kapers op ons lippe te neem nie.

Net maar dat hierdie vorm van misdaad en oortreding die uitsondering is in onder andere Nieu Seeland.

Plaaslik egter is dit ’n ontstellende, daaglikse werklikheid.

Om oortreders se name nie te noem nie, sal ’n mens bykans stom laat.

Wanneer is genoeg, genoeg?

Wanneer sal die burgerlike samelewing opstaan en die wapen van profetiese teenstand en geloof opneem.

Wanneer sal ons die knie buig voor die enigste Een wat ons kan verlos.

Die oplossing lê by die burgers van ’n land.
Ons beleef die wêreld wat ons verdien.

Die implikasie vir die stemmery op 8 Mei is vanselfsprekend en duidelik.

God help ons.