Sit jul huwelik vas in die modder?

articleImage

Ek dink die meeste van ons wat nou hier lees het al die ervaring gehad om in ’n voertuig te wees wat in die modder gaan vasval het, of iewers in los sand. Niemand wat deur die modder wil ry doen dit met die idee om te gaan vassit en in die modder te gaan stoei om die voertuig daar uit te kry nie. Net so is ek baie seker daarvan dat daar nie een enkele egpaar is wat aspris moeilikheid gaan soek om die huwelik te laat vassit in die modder van emosies en verwyte, net omdat hy of sy dit wil geniet.

In aansluiting by my vorige artikel op Maroela Media, kry ek dit so baie dat as jy vir egpaar wat ’n huwelik krisis beleef sou vra wat hulle dink die probleem is, is daar gewoonlik nie ‘n oomblik van huiwering of oorweging by enige een om hulle “korrekte” antwoord te gee nie. Elkeen is absoluut oortuig daarvan dat hulle die antwoord op die probeem geïdentifiseer het. Die oomblik wat jy die vraag sou vra, sal beide op die een of ander manier die ander een se naam noem en vinger wys.

Elkeen is gewoonlik so oortuig dat die probleem in die huwelik eintlik die ander persoon is. As daardie persoon net sou verander of my net ‘n billike kans wil gee, is die huwelik weer op ’n goeie pad, sal jy hoor. Wat mens tref is dat jy gewoonlik by die betrokke persone in die huwelik geen poging tot selfondersoek beleef nie. Nie eens tot die punt van: “Ek weet ek is nie volmaak nie, maar …

Wanneer jy in gesprek met hulle is, beleef jy dat hulle huwelik soos ’n voertuig is wat in die modder vasgeval het en net op een plek staan en spin soos al die konflik en verwyte heen en weer geslinger word. Daar is geen vordering in ’n positiewe rigting nie. Dit word niks anders as ’n vernietigede siklus van vinger wys na die ander waar dieselfde dinge oor en oor gesê word, hulle dieselfde dinge oor en oor doen, dieselfde dinge oor en oor belewe. Natuurlik is dit beide se begeerte om dinge reg te maak, maar hulle weet nie hoe om uit die negatiewe siklus te kom nie. Die huwelik-voertuig bly vassit in die modder. Is daar hoop?

Die een ding wat kan help dat “’n wiel” van die huwelik-voertuig vastrapplek kan kry en die ander stadig uit die modder trek, is dat iemand net die vinger op die kop sal sit en ’n eie aandeel sal erken. Verandering in die huwelik, maak nie saak hoe donker die situasie lyk nie, kan by een ersoon begin. Jy het reg gelees. Verandering in die huwelik kan by jou begin. Dis so jammer, maar gewoonlik is dit die een ding wat vir die meeste mense die moeilikste ding is om te doen nie. Watter pogings hulle ook al aanwend om die situasie te verander, dit sal ongelukkig nie help nie, want hulle soek die fout altyd by die ander of by ’n eksterne invloed. Nooit by hulleself nie.

Waarin lê daar hoop?

Ongelukkig kan geen verandering in ‘n huwelik plaasvind sonder belydenis nie. En saam met belydenis moet daar natuurlik vergifnis wees. Sonder vergifnis kan daar ook niks in die huwelik verander nie.

Belydenis en vergifnis is soos ’n verliefde paartjie wat hand aan hand loop. Belydenis en vergifnis is daardie een on-oopgemaakte deur na groei en verandering in baie huweliksverhoudings. Dis essensieel. Dis fundamenteel. Daarsonder is jy oorgelaat aan ‘n siklus van herhalende en verdiepende patrone van misverstand, verkeerdheid deur heeltyd die vinger na die ander te wys en konflik en uiteindelik vernietiging van mekaar en die huwelik. Met belydenis en vergifnis word die toekoms weer helder en vol hoop, ongeag wat die kwessies is wat die paartjie tans voor oë moet sien.

Belydenis en vergifnis moet eintlik in elke huwelik ’n normale lewenstyl word. Wanneer dit die geval is, kan ’n paartjie met vrymoedigheid binne die veilige ruimte van belydenis en vergifnis, oop kaarte met mekaar speel en eerlik handel met hul eie sondes, swakhede en mislukkings.

Daar is maar net een manier waarop ‘n huwelik kan bly groei. Daar is net een manier waarop ‘n huwelik verander. Daar is net een manier waarop jou huwelik dit kan wees wat God bedoel het dat dit sal wees, en waartoe Hy jou in staat sal stel. Alleenlik deur belydenis en vergifnis. Dis alleenlik as ons onderneem om daagliks ‘n patroon te handhaaf van nederige belydenis, gekoppel aan die gewilligheid om gou en totaal te vergewe, dat die huwelik ons beperkte verwagtinge kan oortref.

Belydenis en vergifnis moet altyd saam gesien word. ‘n Vaste patroon van vergifnis gee ons die moed om te bely en ’n vaste patroon van belydenis bring die vreugde van die versoening wat vergifnis bring.

Deur wat Jesus vir ons gedoen het, hoef ons nie meer weg te kruip, of ons foute reg te praat nie. Ons is vry daarvan om voor te gee dat ons perfek is wanneer ons in ons harte weet ons is dit nie. Ons is vrygemaak daarvan om te moet ontken dat ons probleme het. Ons kan huweliksprobleme met hoop en moed aanpak, want Christus het ware, standhoudende, persoonlike veranderings, sowel as veranderings in verhoudings moontlik gemaak.

 

Deur die genade van die Here kon ek al beleef hoe honderde egpare weer vars kon begin en nuut wegspring aan die ander kant van die modderpoel. Dit kan julle ook wees. Laat jou huwelik baat by die vryheid van belydenis en vergifnis. Vrede vir jou!

 

Ds. Deon van der Berg

Beginet

www.Beginet.org of www.facebook.com/beginetsocial/