Lewens of doodsgeur?

articleImage

Dit is ons voorreg om die mense van Appelpark in Krugersdorp van naderby te leer ken. Dis mooi mense en daar is so baie om te waardeer. Ongeag swaarkry behou hulle lewensvreugde en het geleer om met min reg te kom.

So word ons bewus van twee persone wat albei ʼn been kort het. Omstandighede het daartoe bygedra dat hulle ʼn been verloor het en met krukke huppelend oor die weg moet kom. Japie, die parkopsigter (teen hierdie tyd weet meeste mense van die parkie vir kinders ) vra of daar nie iemand is wat die menere kan help nie. Die een het wel ʼn prostese maar dit het in so ʼn mate gedegenereer dat dit nie meer bruikbaar is nie. Wonderbaarlik kom ons sekretaresse Madelaine in een enkele oproep by ʼn barmhartige samaritaan uit, self in praktyk en hy onderneem om die twee here kosteloos te help.

Prosteses en die proses wat dit vooraf gaan is baie duur en dit is ʼn groot kersgeskenk. So reël ons dat ek die twee manne een Woensdagoggend vroeg optel en na die Mayo kliniek waar Dr Juandre du Toit sy spreekkamer het neem. Tot my teleurstelling en verbasing daag net een van die manne op. Verskeie pogings later reageer die ander doodgewoon nie op die dringende geklop aan sy deur nie. Tyd loop uit en ek en Arrie vertrek om betyds by die afspraak uit te kom.

Juandre en sy vennoot ontvang Arrie soos ʼn eregas. Met groot deernis luister hy na Arrie se hartseerverhaal en verseker hom dat hy gehelp kan word. Sy regterbeen is net onder die knie af en die weefsel word sag kuns ondersoek. Dan word die hele proses aan Arrie verduidelik, die nodige mate geneem en onderneem om binne die afsienbare tyd te reël vir ʼn passing.

Arrie word huis toe gestuur met ʼn “kous” wat oor die “stompie” soos dit genoem word, pas. Die kous alleen kos honderde rande en is nagelaat deur ʼn oom wat gesterf het nog voordat hy dit kon gebruik. Die kous pas asof dit vir Arrie gemaak is. So sorg die Here.

Weke later is Arrie gemaklik met sy nuwe prostese en opgewonde oor die lewe. Hy kan nie wag om te begin werk en ʼn inkomste te verdien nie. Die ander man loop steeds sonder ʼn funksionele prostese. Hy het presies dieselfde geleentheid gehad as Arrie maar dit kru van die hand gewys.

Ek maak daarvan nie sin nie. Albei kon geholpe gewees het maar net een het van die aanbod gebruik gemaak.

Is dit nie maar ook so met die ewige lewe nie?

Een aanvaar en vorder op die lewenspad.

Die ander bly agter, in sonde, verlore, vir altyd.

Kom NOU dat ons die saak met mekaar uitmaak sê die Here...

Groete, Jannie Pelser