Winde van verandering

articleImage

Winde van verandering

 

Laatnag kry ek ʼn boodskap van die bekende radio omroeper Johan Els dat vlamme aangedryf deur ʼn sterk wind Pringlebaai bedreig. Hy stuur ʼn paar foto’s saam en een kort video greep. Op die greep kan ʼn mens die vlamme in die verte sien en die wind se geluid hoor.

 

Uiteraard is wind en vlamme ʼn gevaarlike kombinasie. Die wind waai en versprei die vuur gewoonlik veel vinniger as wat nooddienste die bedreiging onder beheer kan kry. In die jongste verlede moes ons dikwels hoor hoeveel verwoesting vuur in die Suid en Weskaap veroorsaak het. Huise brand tot die grond af en mense verloor selfs hul lewens. Net die gedagte aan so ʼn moontlikheid maak ʼn mens kortasem.

 

Die videogreep het my egter laat dink aan die Gees van God wat ook as vuur en wind bekendstaan. Die Bybel sê die Gees waai waar Hy wil, jy hoor sy geluid en sien die beweging daarvan. Tog bly die Gees ʼn misterie wat ons nie kan bevat of bestuur nie.

 

Joh.3:8 Die wind waai waar hy wil, en jy hoor sy geluid, maar jy weet nie vanwaar hy kom en waarheen hy gaan nie. So is elkeen wat uit die Gees gebore is.

 

Op Pinkster het die Gees soos vuurtonge op die dissipels kom lê. (Hand.2) Johannes praat van die Lam van God wat met vuur doop. (Joh.1:29) Ons het die vuur van God se Gees baie nodig in ʼn tyd wat deur morele agteruitgang gekenmerk word.

 

Dit is opmerklik hoe bekende sepies op TV ʼn ander manier van lewe en doen op ʼn baie subtiele manier aanbied. Dis soos die padda in die spreekwoordelike warm water. Stadig maar seker word die water warmer en warmer totdat dit noodlottig is. Net die feit dat “sensitiewe” kykers vroegaand gewaarsku word teen die beeldmateriaal en storielyn ontstig. Dis gesinstyd sou ek dink. 

 

Waarom moet kinders aand vir aand aan sensitiewe materiaal blootgestel word? Het ons moraliteit dan nou die karakter van ʼn sepie aangeneem? Is Suid Afrika ʼn sepie wat afspeel? Ons moet dalk ʼn slag wakker word. Die vlamme en wind kan vernietig of opbou, afhangende van wat die bron is.

 

Stuur dan U wind en U Gees

 

Laat die ons lei en ons bring by U heilige woning.