2019 – kleur ook buite die lyne in

articleImage

JESAJA 43:19

 

Kyk, Ek gaan iets nuuts doen, dit staan op die punt om te gebeur, julle kan dit al sien kom; Ek maak in die woestyn 'n pad, Ek laat in die droë wêreld riviere ontspring.

 

Ons is geprogrammeer om by die bekende en die aanvaarbare te bly. Ons doen baie dinge omdat ons so geleer is en aanvaar dat dit die enigste manier van doen is. Ons voel onveilig om die onbekende aan te durf en dis normaal.

 

Dis sosiaal aanvaarbaar om jou binne die grense wat ander daar stel te hou, maar dit vul jou nie met nuwe moontlikhede en inhoud nie. Dis net wanneer jy waag om dinge ietwat anders te doen, te benader, te verduidelik en te oorweeg, dat verrassende moontlikhede op die tafel kom.

 

Die bekende is net dit, bekend, maar meer dikwels voorspelbaar en saai.

 

Jy hunker na iets nuut maar wil nie aanstoot gee nie.

 

Die dominee sê jy moet so glo, jou ouers sê jy moet so dink, jou opvoeding sê jy moet so optree, jou omgewing sê dis die regte manier van identifiseer.

 

Niemand kritiseer jou nie want daar is niks om te kritiseer nie.

 

Niemand praat oor jou nie want daar is niks om te sê nie.

 

Dis die bekende opstaan, werk en gaan slaap roetine. So was al die jare tot nou toe en so sal 2019 ook verloop.

 

Diep binne in jou hunker jy na meer maar wil dit nie waag nie.

 

Wat sal die mense sê?

 

Nevermind die mense.

 

Wat sal God sê?

 

Kom agter my aan, Ek wil ʼn nuwe ding doen.

 

God is nie voorspelbaar nie. Hy is verrassend nuut en vars elke dag. So is sy genade.

 

Ek praat nie van moedswillig onverskillig nie, jy het immers ʼn verstand.

 

Ek praat van berekende risiko’s.

 

Wat het jy om te verloor?

 

Niks nie.

 

Jy staan egter die kans om ʼn hele nuwe wêreld te ontdek.

 

JESAJA 42:16

 

Ek laat die blindes loop op 'n pad wat hulle nie ken nie, Ek laat hulle op paaie gaan wat vir hulle onbekend is. Ek verander die donker voor hulle in lig en Ek maak die ongelyk plekke gelyk. Dit is wat Ek gaan doen, Ek gaan daar nie van afsien nie.

 

Groete, Jannie Pelser