Is ek “genoeg?”

articleImage

Joh.5:41

Ek is nie gesteld op die eer wat mense bewys nie

 

“Kom ek by, maak ek dit, is ek ok, pas ek in, is ek aanvaarbaar? Dis essensieel dieselfde vraag en dit leef in baie mense se harte.

 

Dit lyk vir my dat die meeste van ons met gevoelens van minderwaardigheid sukkel, daarom dat ons hierdie vrae vra.

 

Ons formuleer ook meestal self die antwoord, ʼn duidelike nee. Ongeag van die versekering wat ander gee, tree twyfel en onsekerheid onmiddellik in.

 

“Hulle sê dit net om gaaf te wees, wanneer ek nie by is nie lag hulle agter hul hand vir my.

 

“Ek is seker daardie twee praat oor my, hulle skinder oor my.

 

“Ek wens ek was goed genoeg om ingesluit te wees.

“Ek haat hierdie gevoel van alleenheid en nie opgewasse wees nie”.

 

Uiteraard geniet die bose dit om ons swakheid verder uit te buit en te bevestig.

Dit is uiters gevaarlik om te vergelyk. In stede daarvan om te vergelyk met mense wat minder as jy het, vergelyk jy met mense wat meer het. Natuurlik kom ʼn mens dan altyd kort. Onvergenoegdheid en bitterheid neem oor en ʼn mens begin om jouself te verander net om by mense te pas.

 

 

Al die gesukkel help net mooi niks. Jy kry nie gevoel nie afgeskud nie.

 

“Ek is nie genoeg nie”.

 

Ai, hoe hartseer dat ons toelaat dat ons vreugde en vrede so gesteel word. Benewens die feit dat dit alles leuens is, betaal ons ʼn enorme prys.

 

Ons kom nooit by ons “ware self” uit nie. Ons leef gemasker om aanvaarbaar te wees. Ons gee voor wie en wat ons nie is nie. Ons praat snaaks, trek vreemd aan, doen dinge wat totaal en al uit karakter is, ons besoek plekke wat verdag is, ons omarm praktyke en gewoontes wat ons net dieper in die moeilikheid laat beland. Ons word net meer en meer ongelukkig.

 

Om mense te probeer tevrede te stel is baie uitputtend. Die handeklap van mense is kortstondig en gou vergete. Die Bybel sê wie die erkenning van mense bo die erkenning van God plaas het ʼn probleem.

 

Gal.1:10

Klink dit nou asof ek die guns van mense soek, of soek ek die guns van God? Probeer ek by mense in die guns kom? As ek nog steeds die guns van mense soek, sou ek geen dienaar van Christus wees nie

 

Die waarheid is dat ek genoeg, aanvaarbaar en uniek is vir God.

 

Daar is net een van my.

Ek en jy word nie weer “herhaal” nie.

Net een keer in die bestaan van hierdie wêreld word ek ontplooi.

 

As dit ʼn mens nie met verwondering vul nie, weet ek nie wat sal nie.

 

 

Groete, Jannie Pelser