Hallo Jesus

articleImage

Hallo Jesus!

Ek moes my kleinseun, Karlu, vanoggend kleuterskool toe neem. Dis storietyd en saamsing tyd. Te lekker.

Ek het hom vertel van die seuntjie piesang wat na die verkeerde kant toe gebuig was ( hoes daai vir verbeelding). Almal het hom gespot omdat hy die uitsondering op die reël was. Ons hou mos van eendersheid. Verskille maak ons ongemaklik. Nadat hulle by die dokter en juffrou aangedoen het sonder om ʼn oplossing te kry vir die probleem is hulle na die dominee toe. Dié het voortgestel dat daar vir die seuntjie gebid word sodat hy soos die ander piesangs sou lyk. Pappa, mamma en boetie het die aand op hul knieë gevra dat Jesus ʼn wonderwerk sal doen.

Die volgende oggend het almal soos gewoonlik opgestaan en gejaagd alles in plek probeer kry vir skool en werk. Niemand het enige iets agtergekom nie. Dis eers toe die seuntjie piesang sy tande wil borsel en sy mond aan die verkeerde kant sit dat hy aan’t huil gaan. Dan sien sy ma en pa eers die wonderwerk raak. Siedaar die seuntjie is na die regte kant toe gebuig. (sommer opgemaak so ver ons gery het)

Die motor het een van daardie dakke wat oopskuif en hy vra toe dat ek dit oopmaak. Die wind waai deur sy haartjies en baie spontaan skree hy na buite en na bo “hallo Jesus”.

Ai die wonderwêreld van kind wees. Stories bekoor en Jesus is daar bo. Jy kan Hom groet en met Hom praat. Hy is jou vriend.

Het jy al gesien watter wonders Hy in jou lewe gedoen het?

Het jy Hom vanoggend gegroet?

 

Gebed
Here dis ʼn voorreg om U te ken en met U te kan praat.
Ek raak nooit daaraan gewoond nie.

Amen